Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. (vers 3)
Wat ’n heerlike saligheid wag nie op ons nie! Alles is nuut (vers 5) en daar is nie plek vir die sleepsel van die slang nie (vers 8). Die see. simbolies van die broeiplek van die Bose (Op 13:1) bestaan nie (vers 1). Daar is nie meer trane of dood of lyding nie (vers 4). En – ek en jy kry dit verniet (vers 7)!
In ’n paar breë lyne skets Johannes vir ons dié nuwe Jerusalem met die glans van God self (vers 11). Dit is natuurlik nie ’n letterlike beskrywing nie, want geen mensewoorde kan reg laat geskied aan die wonderlike erfenis wat God vir ons gereed gemaak het nie. Dit skep eerder by ons ’n indruk van die ongelooflike weelde (al die edelgesteentes), die veiligheid (die ontsaglike stadsmuur) en die persoonlike teenwoordigheid van God in ons midde. Daar is immers nie ’n tempel nie (vers 22), en die lig kom van die heerlikheid van God self (vers 23 en Op 22:5). Vanuit God se troon vloei die lewe na almal en alles (Op 22:1).
Views: 17