Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort … (1 Kor 1:2)

Wat sien jy as jy na mense kyk? Kyk jy soos Jesus en Paulus?
Ons kry ’n mooi voorbeeld van hoe Jesus na mense gekyk het in die genesing van die blinde Bartimeus (Mark 10:46-52). Die mense het Bartimeus as ’n probleem gesien; Jesus kyk na hom en sien iemand wat Hom nodig het. Dís hoe Paulus ook gekyk het: met God se oë. Daarom sien hy mense vir wie Jesus aan die kruis gesterf het, mense in wie se lewens God aan die werk is. Dís sy eerste gedagte as hy na Korinte met al hulle probleme kyk (vers 2).
Om só te kyk, kom nie vanself nie. Dis iets waarin ons ons moet oefen – om mense te sien as mense vir wie God só liefhet dat Jesus vir hulle kom sterf het, en nie eerste as sondaars van wie ek niks hou nie.
Só word God se liefde en ontferming deur ons sigbaar in die wêreld. Só word ons ’n venster vir die wêreld om te sien hoe dit lyk waar Jesus Koning is.

image_pdfimage_print

Views: 18

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.