Dawid en die amptenare in beheer het die seuns van Asaf, Heman en Jedutun vir ’n besondere diens afgesonder. Hulle was mense wat onder begeleiding van liere, harpe en simbale as profete opgetree het. (1 Kron 25:1)
Soos Martin Luther en JS Bach vir baie Protestantse gelowiges sinoniem geword het met goeie kerkmusiek, was Asaf in Oud-Israel dié tempelmusikus. Hy was een van die leiers onder die musici wat koning Dawid aangestel het (15:7 en 16:4-5). Asaf (en sy nageslag) het in die gilde van tempelmusici en -sangers uitgestaan as leier van Israel se aanbidding, in die koningstyd en ná die terugkeer uit ballingskap (vgl Neh 7:44).
Asaf was nie net ’n begaafde musikus nie, hoewel hy veral bekend was as speler van kopersimbale (16:5); hy word elders ook ’n siener genoem (2 Kron 29:30), en het vir Dawid as profeet opgetree (1 Kron 25:2). Hy was ’n begaafde man wat deur musiek en sang die boodskap van die Here bekend gemaak het. Altesaam twaalf psalms (Ps 50 en 73-83) kom uit sy pen.
Twee eienskappe het hom laat uitstaan. Hy was begaafd as musikus, maar hy het ook naby die Here geleef as profeet en siener. Dít het aan sy werk blywende waarde gegee.