Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys. (1 Thes 2:13)
Hoekom glo jy? Is dit omdat jou ouers geglo het? Of dalk ’n onderwyser of predikant of goeie vriend?
Die meeste van ons begin ons geloofsreis in navolging van iemand wat ons vertrou. Dit is ook reg so. Maar daardie navolg-geloof moet later oorgaan in oortuiging dat God leef; dat Hy deur die Bybel praat, ook met jou persoonlik. Dan is jou geloof nie maar gebou op ander mense se voorbeeld of woorde nie, maar op vertroue in God.
Dalk sukkel jy nog om te aanvaar dat God se woord regtig die waarheid is. Kyk dan na gelowiges om jou en ervaar hoe God se Woord hulle lewe verander. Kyk na jouself, en erken die uitwerking van God se stem in jou lewe. Om te glo, kom immers nie uit jouself of uit wilskrag nie, maar uit die oortuiging van die Heilige Gees in jou hart (2 Thes 2:13).
Views: 0