Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. (1 Thes 4:13)
Dit is ’n ongelukkige feit dat baie mense bang is vir die wederkoms en wat dit vir hulle gaan inhou. Dit was in Tessalonika ook die geval.
Ek sê dis ’n ongelukkige feit, want die wederkoms moet jou nie bang maak nie, maar hoop gee (vers 13) en troos (vers 18). Dink net: die Here Jesus sal self uit die hemel neerdaal om ons te kom haal, sodat ons altyd by Hom kan wees. Wat ’n heerlike vooruitsig! Die hemel kom aarde toe, en God maak alles nuut (Op 21:1-5) – ’n nuwe, heel wêreld waar daar niks stukkend en seer en pynlik sal wees nie, en God by ons sal woon (Op 21:3).
Moenie gedagtes oor die wederkoms uit jou gedagtes probeer weer nie, want so ontneem jy jouself van ’n heerlike verwagting. Lees, en herlees, 1 Tes 4:13-18 en Op 21 en 22, en skep moed. Ons bely immers elke Sondag saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis dat ons glo in die opstanding van die vlees en ’n ewige lewe. Halleluja!
Views: 11






