Liewe leser, ons het nou, ná 3½ jaar, die hele Ou Testament, en op 2 Timoteus, Titus, Filemon en Openbaring na, ook die hele Nuwe Testament 2 keer deurgelees. Dit was vir my persoonlik ’n baie wonderlike reis deur die Bybel, maar ek dink ek gaan dié rubriek nou vir eers op ys sit, want ek kom nie by my ander skryfwerk uit met die tyd wat hierdie oordenkings uit my dag neem nie. Ek wil graag weer ’n Bybelse roman skryf, en daarvoor het ek al my kopspasie en tyd nodig.
Baie dankie dat jy die Bybel saam met my gelees het. Dit was ’n voorreg om dit saam met julle te doen.
As jy die dagstukkies weer wil lees, kan jy natuurlik altyd terugblaai op die WhatsApp-groep, of jy kan op my webwerf die verskillende Bybelboeke se dagstukkies gaan lees by https://bybelkoerant.co.za/lees-die-bybel-saam-met-my/
Ek beplan ook om nog Deel II en III van “Lees die Bybel saam met my” te publiseer; Deel II het ek pas van die drukkers ontvang: Lees die Bybel saam met my II | Jaco se Bybelkoerant.
Deel I is steeds beskikbaar as jy belangstel:
https://bybelkoerant.co.za/2023/08/05/lees-die-bybel-saam-met-my/ Laat weet my per WhatsApp of by jaco@bybelkoerant.co.za as jy belangstel. Dit kos R300 en sluit die koerierkoste in.
Ek sal wel nog van tyd tot tyd ’n preek op dié spasie opsit wanneer ek die voorreg kry om te preek, so moenie die groep verlaat as jy van die preke wil ontvang nie.
Nouja, mag jy en jou dierbares ’n geseënde rustyd oor die groot dae hê, en ’n baie geseënde Kersfees. Mag die Kind van Betlehem, die Leeu uit die stam van Juda, elke dag voor jou uitstap!
Ek wil ook vir my liewe vrou Elmien dankie sê wat so getrou elke dag se stukkie geproeflees het, en die dagstukkie gereeld verryk het met haar foto-plasings. Jy is ’n ster!
Vriendelike groete
Jaco Thom
Views: 25






