… die Here het u vandag in my mag gegee. Maar ek was nie bereid om my hand te lig teen die gesalfde van die Here nie. (vers 23)
Ondanks al Saul se mooi woorde het Dawid hom steeds nie vertrou nie. Hy gaan nie saam met hom terug soos Saul versoek het nie. Hulle het mekaar ná hierdie ontmoeting nie weer gesien nie, en Saul het sy agtervolging gestaak, waarskynlik omdat die Filistynse bedreiging al groter geword het.
Paulus gee ook leiding oor die situasie waarin Dawid hom bevind het. Hy skryf in Rom 13:1-7 dat ons ons aan die gesag van die owerheid moet onderwerp. Soos in Dawid se geval was die Romeinse owerheid nie Christene goedgesind nie, en tog was dit deel van God se verordening.
Ons moet leer om die persoon en die instelling te skei. Die persoon mag vrot wees, maar ons moet steeds sy of haar amp respekteer.
Dit was Dawid se oorweging. Dit het implikasies op talle terreine – politiek, onderwys, kerk, gesin. Die Heidelbergse Kategismus (vraag 104) sê só oor die vyfde gebod: “Ek moet […] almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. [..] Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.”