Lees 1 Pet 1:1-9 en 23
Een van die vrese waarmee gelowiges dikwels worstel, is die vrees dat hulle die hemel om een of ander rede gaan misloop. Dalk gaan hulle vorentoe die spoor byster raak en wegraak uit die geloof. Dalk pleeg hulle op ’n onvoorsiene dag in die toekoms ’n onvergeeflike sonde en verbeur só hulle plek in die hemel. Dalk maak hulle dit nie. Ons is immers almal feilbare mense …
Die evangelie is dat dit nie kan gebeur nie. God bewaar nie net jou erfenis in die hemel nie; Hy bewaar jou ook! Die krag van God bewaar jou veilig vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word, skryf Petrus in vers 5.
’n Duitse teoloog, Paul Althaus, het dit goed gesê: “Ek weet nie of ek glo nie, maar ek weet in Wie ek glo, en Hy sal my nie los nie.” Jy gaan dit maak, nie omdat jy so goed en onwrikbaar vas glo nie. Jy gaan dit maak, omdat God jou vashou en nie sal toelaat dat jy wegraak nie. Hy waarborg dit dat jy eendag daar sal wees om jou erfenis in besit te neem.
Jy kan dié belofte ter harte neem en jou hoop daarop bou, nie omdat jy arrogant is en seker is dat jy enduit sal bly glo nie, maar omdat God dit belowe.
Gebed: Here, ek vind rus in u belofte dat U my bewaar. Ek prys U daarvoor.
Views: 4