Lees 1 Pet 1:1-9 en 23

Dit is natuurlik nie die volle storie dat geloof jou niks in die sak bring nie, en dat jou geloof geen voordele op aarde inhou nie. Want dit hóú voordeel in, reeds hier en nou. Dit onderstreep Petrus met dik hale as hy skryf dat jy reeds deel het aan die saligheid wat die einddoel van jou geloof is (vers 8-9).

Geloof gaan nie net oor eendag in die hemel nie; dit natuurlik óók. Maar dit gaan oor vandag, oor nou. Nou reeds het jy deel aan die saligheid; nou reeds is jy deel van God se spesiale familie, deel van die geloofsgemeenskap van mense wat verlos is en sonder die skuldlas van die sonde leef.

Jy is vry van die houvas van die sonde en van Satan. Jy hoef nie meer die knie voor sy versoekings en verleidings te buig nie. Dink daaroor: jy kan nee sê! Jy hoef nie neer te val en te aanbid as die duiwel jou nader nie. Jy behoort immers nie aan hom nie. Jesus het jou uit sy greep bevry, en daarom kan jy ’n nuwe lewe leef, op pad agter Jesus aan.

Dit is die hart van ’n gelowige se blydskap: dat daar ’n ander werklikheid van jou waar geword het, en dat jy daarom nie hoef deel te hê aan die wêreldse en die banale plesiere om werklik bly te wees nie. Jou blydskap is onuitspreeklik, want dit is ’n blydskap, gevoed deur jou liefde vir Jesus en die wete dat Hy jou Saligmaker is.

Gebed: Jesus, Bron van al my vreugde, Jesus, Lig van my geloof!

image_pdfimage_print

Views: 5

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.