Dag 1: Op jou naam genoem

Lees: Joh 20:11-23

Die oomblik van waarheid het vir Maria aangebreek toe Jesus haar op haar naam aangespreek het. Toe eers ontdek sy tot haar oorstelpte blydskap dat die man voor haar nie die tuinier is nie, maar haar Here. Eers toe sy haar naam hoor, het dit tot haar deurgedring.

Dit is die God aan Wie jy behoort: nie sommer net ’n almagtige toutjiestrekker iewers doer ver nie, maar ’n persoonlike God wat jou op jou naam ken, persoonlik ken, van naby ken.

In hierdie wêreld neem magtige mense besluite wat miljoene mense se lewens direk beïnvloed. Die leier verklaar oorlog en stuur daarmee talle na hulle dood. Wette word uitgevaardig wat elke landsburger raak. Reëls word neergelê oor hoe jy jou kinders mag en nie mag opvoed nie. En die mense agter dié besluite het geen idee wie jy is, en hoe die besluite jou persoonlik raak nie. Jy is net deel van ’n statistiekbladsy, nog ’n nommer tussen al die ander.

Dis presies hier waar ons wonderlike God anders is. Hy ken jou op jou naam. Hy weet presies wat in jou lewe aangaan. Hy weet wat Hy van jou verwag, en hoeveel dit jou kos om dit te doen, want Hy stel in jou belang. Jy is vir Hom nie maar net nog ’n nommer nie.

Gebed: Dankie, Here, dat U my ook op my naam ken.

image_pdfimage_print

Views: 7

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.