Lees: Joh 20:11-23
Dis nogal ’n verstommende woord waarmee Jesus sy dissipels groet by hulle eerste ontmoeting ná sy opstanding. Onthou, die dissipels het tydens Jesus se inhegtenisneming Hom almal in die steek gelaat. Boonop het Petrus Hom verloën, sodat ons kan aanvaar dat hulle minstens beskroomd was toe Jesus skielik in hulle midde verskyn het.
Hulle was natuurlik onnodig skaam, want Jesus se groet vat al hulle vrese weg. Hy kom in vrede. Hy ontmoet hulle as ’t ware om met hulle vrede te maak. Om hulle verhouding met Hom weer heel te maak.
Is vrede een van die gewaarwordinge wat by jou opkom as jy aan jou verhouding met God dink? ’n Gevoel van heelheid, van rus, van behoort, van geborgenheid en veiligheid? Of kry jy ’n gevoel van beklemming, soos Adam en Eva in die Tuin van Eden? ’n Gevoel van vrees? Onsekerheid? Spanning? Skryf jou gewaarwordinge hieronder neer. Wat, dink jy, veroorsaak dit dat jy nie die vrede wat Jesus bring, ervaar nie? Of dat jy dit wel beleef? Praat met die Here daaroor.
Jesus se oorwinning oor die Bose, oor sonde en die dood maak Hom die Een wat ware vrede kan skenk. Dit het Jesaja al in Jesaja 53:5 voorspel, en dis vandag nog waar. Dit sê Jesus met sy groet, ook vir jou vandag.
Gebed: Here Jesus, ek prys U. U is my vrede!
Views: 2