Uit Benjamin het dié dag vyf en twintig duisend man geval, manne wat kon veg, almal dapper soldate. (vers 46)
Wat ’n sinnelose orgie van geweld! Derduisende sneuwel aan beide kante, totdat daar uiteindelik net 600 Benjaminiete oorgebly het.
Hier het dinge op soveel vlakke verkeerd gegaan. Die ongasvryheid van die mense van Gibea toe die Leviet en sy byvrou daar aankom (19:15); die roekelose wetteloosheid van die straatboewe, wat geen respek vir God en sy gebod gehad het nie (19:22); en uiteindelik die veragtelike moord op die weerlose vrou (19:28). Nóg verstommender is dat die stadsvaders van Gibea soos een man die straatboewe beskerm (20:13).
Al dié aaklighede sneeubal uiteindelik tot ’n burgeroorlog wat die stam van Benjamin so-te-sê uitgewis het, soos ons môre sal sien.
Soms is ’n mens se lewe net ellendig, en dit nie deur jou eie toedoen nie. Die vraag is dan: Hoe reageer jy op dié slegte situasie?
Die Spreuke-digter sê in Spr 15:1: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar …” Ongelukkig lees ons niks daarvan in dié tragiese verhaal nie. Dis ook nie hoe Christus ons voorgeleef het nie, soos Paulus Hom beskryf in 2 Kor 10:1 as “nederig en vriendelik”. Dís hoe ek en jy moet wees!
Views: 14