Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig. (2 Kron 20:12)
Ons lees ook dat Dawid die Here in ’n geveg geraadpleeg het, maar dit het meer oor die regte taktiek gegaan. Hy was ’n briljante militêre strateeg, en daarom sou hy waarskynlik anders as Josafat opgetree het. Hy sou sy krygsmag gebruik het.
Josafat was nie ’n vegter nie. Daarom het ’n groot oormag hom bang gemaak. Hy wys ons dat jy nie mag nodig het om te slaag nie. God veg vir sy kinders. Daarom roep Josafat sy mense byeen op ’n vasdag en smeek God om uitkoms. Sy vertroue lê daarin dat God in die verlede al telkens tot sy volk se redding gekom het, en dit gee hom vrymoedigheid om nou weer daarvoor te vra.
Opmerklik is hoeveel daar gemaak word van aanbidding en lof in hierdie gedeelte (verse 19, 22 en 28). Wanneer ’n mens voor God staan, of dit nou in nood of in dankbaarheid is, behoort lof altyd voorop te staan. Daarom sê Dawid in Ps 34:2 dat die Here se lof altyd op sy lippe sal wees. Kyk ook na Heb 13:15 en Hand 16:25.
Bid, vertrou, loof. Dis die resep vir elke dag.