1. Bly op sy weë

Wag op die Here en hou by sy pad, dan sal Hy jou aansien gee om grond te besit.
Psalm 37:34 (AAFR20)

As jy iemand wil ontmoet, vind jy uit waar jy hom of haar kan kry, en wat sy of haar bewegings is. As jy op God wag, moet jy wag waar Hy is; jy kan nie verwag om Hom te ontmoet waar Hy nie gaan nie. U kom elkeen tegemoet wat met vreugde doen wat reg is, wat op u paaie aan U bly dink (Jesaja 64:5, AFR20). Jy sal God slegs op sy paaie vind, as jy Hom soek en geduldig wag.

Dié twee gaan hand aan hand: Wag op die Here het te make met jou aanbidding en ingesteldheid, en hou by sy pad gaan oor wat jy doen. As jy nie God se paaie volg nie, sal jy min seën ontvang. Om seën uit jou verhouding met Hom te ontvang, moet jy jou volledig aan sy wil onderwerp. As jy doen wat God vra, sal Hy meer doen as wat jy van Hom kan vra.

Dalk voel jy jy kan nie so volledig op sy weë bly nie. Hou dan by wat jy kan; Hy sal jou die krag gee vir die res, na die mate wat jy op Hom wag. Gee jou hele wese aan God oor, sonder reserwe en sonder twyfel; Hy sal Hom as God aan jou bewys, en Hy sal dit wat vir Hom aanneemlik is, in jou werk deur Christus Jesus. Bly op sy pad, soos jy dit uit die Woord ken. Soek jou krag in sy almag, en kry jou verlossing deur op Hom te wag.

As jy misluk, is dit omdat jy probeer het om in eie krag te oorwin en te gehoorsaam. Kom na God, buig voor Hom totdat jy geleer het dat Hy die God is wat alleen goed is. Net Hy kan die goeie bewerkstellig. In jouself is daar geen ware krag nie. Wees daarom tevrede om die werking van sy magtige genade en lewe te ontvang. Wag op God sal die vernuwing van jou kragte bring, sodat jy op sy weë kan bly en nie moeg word nie, in sy paaie kan wandel en nooit mat word nie (Jesaja 40:11).

Wag op die Here en hou by sy pad sal só ’n opdrag en tegelykertyd ook ’n belofte word. Wag op die Here!

image_pdfimage_print

Views: 14

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.