Vir die wat geen kommer ken nie, pas ongeluk en smaad bymekaar, by dié wat struikel, pas ’n skop. (vers 5)
As ’n mens na die sin van lyding soek (waaroor die hele boek Job worstel) is een van die antwoorde dit wat Job hier uitlig: As jy deur diep waters is, is jy nie so gou om die kop meerderwaardig te skud oor iemand wat swaarkry nie. Net oë wat self gehuil het, kan die seer in ander se lewens raaksien, het ’n wyse biskop in Ruanda ná die afskuwelike volksmoord daar gesê. Lyding kweek deernis met, en begrip vir ander wat ly. Lees gerus wat Paulus in 2 Kor 1:3-6 hieroor skryf!
Job se vriende het klaarblyklik nog nie sulke lyding verduur nie, en daarom is hulle gou om blink antwoorde vir Job te gee; antwoorde wat in sekere situasies wel reg mag wees, maar nie in Job s’n nie. Nie net verstaan hulle nie Job se diepe worsteling met God nie; hulle “raad” is soos ’n skop. Dit maak seer en druk hom verder in die ellende in (vers 5).
Ons sal goed doen as ons Job se woorde ter harte neem. Pred 7:16 waarsku juis (OAV): “Wees nie alte regverdig nie.”
Views: 13