1. Die Almagtige

Maar wie op die HERE wag, herwin hulle krag; hulle gaan op met vlerke soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.
Jesaja 40:31 (BDV)

Ons teks is die afsluiting van ’n gedeelte waarin God Homself openbaar as die ewige en almagtige God. Wanneer jy dít begryp, word jou wag ’n spontane uitdrukking van wat jy van Hom weet – Hy is geheel en al waardig om op te wag.

Luister na wat Jesaja oor Hom sê: Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie”? (40:27). Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie (40:28). Hoegenaamd nie! Want Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie (40:29). Dié wat óns dink is sterk, hou nie stand nie: Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (40:30-31). Krag kom immers van die Here.

Jy het arendsvlerke nodig, want jy moet hoog vlieg, jy moet die hemelse lewe in die teenwoordigheid van God leef, en daarvoor het jy God se krag nodig. Vir hulle wat op Hom wag, skenk Hy dit.

’n Arendskuiken leer vlieg wanneer sy ma hom uit die nes skop. Hy val al spartellende grond toe, tot sy ma onder hom invlieg en op haar vlerke terugdra nes toe. Sy hou daarmee aan totdat die kuiken self begin vlieg (kyk na Deuteronomium 32:11-12). So maak die Here met jou ook. Hy vat jou veiligheid en gemak weg, laat jou vrees en bewe en totaal hulpeloos voel. Maar Hy los jou nie. Hy vang jou op, dat jy in Hom kan rus. Wat jy moet doen, is om jou aan Hom oor te gee, op Hom te wag, Hom toe te laat om jou in sy almag te dra.

Kyk na God. Hy word nie moeg en afgemat nie. Hy belowe dat jy dit ook nie sal word nie. Wag op die HERE!

image_pdfimage_print

Views: 22

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.