- Wag op verlossing
Simeon … was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die verlossing van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon … ’n profetes, Anna, … (het) oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing … uitgesien het.
Lukas 2:25,36,38
Dis mos wat ’n wagtende gelowige is: Getrou aan die wet, vroom, iemand wat uitsien na die verlossing en op wie die Heilige Gees is. Daarom was Simeon en Anna gereed vir God se groot guns. Hulle het op God gewag, en uitgesien na sy beloofde verlossing.
Intussen hét God se verlossing gekom en is ons wag anders as van ouds. Christus het immers belowe: Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle (Johannes 14:20). Ons wag op God met die wete dat ons aanvaar is in Christus, dat die liefde wat die Vader vir Christus het ook op ons rus. Dié sekerheid werk die Gees in ons. Ons het nou toegang tot die Vader; ons wag nie tevergeefs nie. En hoewel die verlossing reeds gekom het, wag ons steeds, maar nou wag ons dat dit in ons openbaar sal word. Christus het nie net gesê: Julle moet in My bly nie; Hy het bygevoeg: en Ek in julle (Johannes 15:4). Dit is waarop jy moet wag: dat Christus in jou sal leef; dat God jou sal vorm om al meer soos Christus te word en te dink.
Ons wag verskil van destyds, maar tog ook nie: ons wag steeds op God, op Hom alleen is ons hoop. En soos Simeon en Anna kan ons niks anders doen nie as net wag. Dis nie asof God die groot verlossing in Christus uitgewerk het, en ons dit nou moet toepas nie. Die openbaring van Christus in jou lewe, hoe langer hoe meer, is net soseer die werk van die almagtige God as die geboorte en opstanding van Christus. Dit is volledig God se werk, en jy moet dit goed begryp om die volle seën daarvan te kan ontvang. Die wete dat jy geheel hulpeloos is, en die vertroue dat God dit alles kan en wil doen, moet jou wag kenmerk, net soos dit deel van hulle wag was. En soos Hy aan hulle getrou was, sal Hy sy heil in jou ook uitwerk. Wag op die HERE!
Views: 13



