- Wag op die belofte van die Vader
Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte …
Handelinge 1:4 (AFR20)
Die vervulling van die Vader se belofte kan nie weer gebeur soos dit op Pinksterdag was nie. Tog het ons nodig om daagliks op die Vader te wag om sy belofte ook in ons te vervul, soos Hy dit vir die eerste dissipels gedoen het.
Die Heilige Gees staan nie los van die Vader nie. Die Vader is altyd in die Gees, en die Gees werk slegs dit wat die Vader deur Hom doen. Dieselfde Gees wat in ons woon, is in die Vader ook. Hoe meer die Gees jou vul, hoe meer sal jy op God wag om sy belofte waar te maak. Die Gees is nie ’n onafhanklike krag wat tot ons beskikking is nie. Die Gees is die ware, lewende teenwoordigheid en krag van die Vader wat in ons werk.
Wanneer God genade of krag of lewe gee, skenk Hy dit deur Homself te gee om dit te bewerk. Dit is alles onlosmaaklik van Hom, en nog meer so van die Heilige Gees. Hy is God in ons. Hy is God aan die werk in ons. Ons kan op Hom staatmaak om dit al meer te doen namate ons Hom loof en wag op die vervulling van die Vader se belofte.
Soos die dissipels van ouds voor God se troon gewag het vir krag om staande te bly en om vir Christus se vyande te preek, so het ons ook daardie krag nodig. Jy kan net sterk staan in God se werk of in die liefde as jy in direkte verbinding met God en Christus is, met die lewe van die Gees in jou. Dan sal die almagtige God deur die verheerlikte Christus kragtig in ons werk, wat onverwagse en onmoontlike dinge kan laat gebeur. O, as elkeen in die kerk tog só op God wag!
Kom dan, laat elkeen van ons stil wees voor die ondenkbare grootsheid van hierdie vooruitsig – die Vader wag om die kerk met die Heilige Gees te vul. Laat elkeen van ons sê: “Hy wil my vervul.” Wag dan in stilte en met ’n heilige ontsag om dit alles te ontvang. Dan sal die lewe ’n diepe vreugde word in die hoop op die vervulling van die Vader se belofte. Wag op die HERE!
Views: 10



