Elke ding het sy vaste tyd (Pred 3:1)
Met ’n vinnige lees van Pred 3:1-9 wil dit voorkom of die Prediker sê ons lewe is as ’t ware in beton gegiet, en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. God beheer die tye en seisoene van die lewe, insluitend geboorte en dood. As jou strepie getrek is, is dit getrek, sê mense dikwels. Jou lewe is voor jou geboorte al vasgestel, en jy moet dit bloot aanvaar.
Dis nie wat die Prediker wil sê nie. Dis nie asof die lewe outomaties voortgaan en ons is hulpelose toeskouers in ons eie lewe nie. Ons bely immers dat God ons met ’n vrye wil geskep het, sodat ons self kan én moet kies hoe ons paadjie loop. Jy kan nie onverskillig lewe en as jy dan probleme kry, sê dis God se wil nie. Só maklik kan ons nie aan ons verantwoordelikheid in die lewe ontkom nie. As jy bv. alles wat jy het, wegdobbel, kan jy nie sê dis nou maar eenmaal jou lot nie. Daarom waarsku die Prediker ons dat mense “voor hulle tyd” kan sterf deur dwaasheid, sonde of roekeloosheid (Pred 7:17 – “Wees nie te regverdig nie … waarom wil jy vóór jou tyd sterwe?”). Ons keuses en sonde het gevolge wat die lewe kan verkort.
Wat die Prediker sê, is dat daar seisoene in die lewe is wat jy nie kan versnel of stop nie. Jy kan byvoorbeeld nie die winter gouer laat omgaan nie. Daar is dinge in die lewe wat uitsluitlik in God se hand is en wat Hy bepaal. Ons is nie God nie. Die lewe bestaan uit siklusse en teenstrydighede, en die wysheid lê daarin om te onderskei watter tyd dit nou is. Om sinvol te leef, vra nederigheid en ’n erkenning dat God uiteindelik in beheer van sake is, maar ook die wysheid om te weet watter keuses vir jou gaan werk.
Ek dink graag oor die spanning tussen God se beheer en ons verantwoordelikheid as ’n dinamiese spanning, waarin God in beheer is, maar ook ruimte laat vir dit wat ons besluit, goed of sleg. Hy sal sy plan vir jou lewe aanpas sodat dit uiteindelik aan sy doel beantwoord. Dis die troos – ons behoort nie aan onsself nie en is ook nie aan die noodlot oorgelaat nie. Ons behoort aan ons troue Saligmaker. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. (Heidelbergse Kategismus Vr en Ant 1).
Prediker 3:1-9 sê dat God die tyd van sterwe bepaal het binne sy soewereine plan. Dit is nie noodlot nie, maar vertroue – die God wat jou geboortetyd geken het, ken ook jou sterftyd, en Hy is getrou. Dit help jou om te aanvaar dat jy nie alles kan dwing om volgens jóú skedule te gebeur nie. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om te lag; albei is deel van die lewe. Dit verskuif die beheer vanaf jou eie skouers na God se groter plan.
Views: 69




