Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang. (vers 8)
Só eindig die oorspronklike Evangelie van Markus – stomp, half onklaar, sou ’n mens wil sê. Alles hang in die lug. Die vroue het die aankondiging van die jongman in die graf gehoor dat Jesus lewe, en dat Hy vooruit gaan om hulle in Galilea te ontmoet; vir hulle, en veral vir Petrus, wat so erg opgemors het deur Hom te verloën. En die vroue hardloop weg, bewend van skrik.
Die vroeë kerk het gevoel dis té onbevredigend, en ’n slot bygesit om alles mooi af te rond. Ons hou van verhale wat klaar vertel word.
Was dit nodig? Ons het al die inligting by Markus gekry om self die verhaal verder te vertel. Moet ons daarom nie juis ’n rukkie langer by die vroue vertoef nie? Om alles te oordink, in te neem, diep in ons hart te bêre, totdat die skrik van die ongelooflike oorgaan in vreugde, verwondering, diepe geloof in dié Here wat meer is as wat ons ooit kan vermoed?
Views: 4