Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. (Hand 15:39)
Dat God nog met ons uithou, is net ’n wonder van sy genade. Want so dikwels, op kritieke momente in die geskiedenis, laat ons Hom in die steek. Net wanneer ’n mens dink die kerk is deeglik op koers, broei die moeilikheid uit. Soos Paulus en Barnabas se geskil oor personeel vir hulle volgende sendingreis. Pas het die eerste kerkvergadering ooit ’n ongelooflike deurbraak gemaak deur onomwonde te bely dat geloof in Christus, en net dit, genoeg is om deel van die kerk te word (vers 11). Die deur vir heidene om deel van die kerk te word, is hiermee wawyd oopgegooi. Maar Paulus en Barnabas, die groot agente vir hierdie deurbraak, stry só met mekaar dat hulle paaie vir altyd skei. Dit kon die uitbreiding van die evangelie onmeetbare skade berokken het.
Dis vir súlke mense – ons! – wat Jesus kom sterf en die Bose oorwin het. Want ons dwarsheid en koppigheid stuit Hom nie; inteendeel, Hy keer dit om om seën daaruit te laat vloei. Paulus-hulle se twis verdubbel die sendingwerk, want nou was daar twee spanne wat na die heidene uitgereik het.