Red u volk en seën dié wat aan U behoort; wees vir hulle ’n herder en sorg altyd vir hulle. (vers 9)
In hierdie psalm roep die digter in sy nood na God, en dit voel vir hom of God ver is, want God swyg (vers1). En dan, teen die einde van die psalm, sing hy van dankbaarheid, want die Here hét gehoor en gehelp. Soos dikwels in die psalms weet ons nie of die Here wél al uitkoms gegee het nie, en of dit eerder ’n geloofsbelydenis is waarin die digter só seker is van die uitkoms wat God sal gee, dat hy daarvan praat asof dit reeds gebeur het.
Wat my opgeval het by die herlees van die psalm, is dat die digter sy lied afsluit met ’n gebed vir die volk (vers 9). Hy weet dat nie net hý nie, maar almal wat aan die Here behoort, God se besondere sorg nodig het.
Wanneer jy in die nood is, mag jy God smeek om uitkoms soos Dawid in hierdie psalm doen. Maak dan jou oë wyd oop, sodat jy nie net jou eie behoeftes raaksien nie, maar ook andere s’n, en vra dat God ook húlle sal seën.