Maar ek sal juig in die Here, ek sal jubel oor die redding wat Hy bring. (vers 9)
Ek vermoed daar is meer mense wat in hierdie psalm hulle eie ervaring verwoord kry as wat ons dink. Dit is eenvoudig ’n nare feit dat party mense hard en harteloos is en nie ’n oog sal knip oor jou ellende nie. Trouens, hulle verlekker hulle in ’n ander se ondergang en werk selfs aktief daaraan mee.
Dit is waaroor die digter van Psalm 35 kla: dat daar mense is wat vir hom ’n strik gestel het (vers 7); hom vals beskuldig (vers 11) en elke geleentheid gebruik om hom by te kom (vers 12). Die ergste van alles is dat die digter dit allermins verdien. Van sy kant was hy net goed vir hulle (vers 13-15).
As jy ook al in só ’n situasie was, kan jy saam met die digter jou tot God wend. Hy verduur nie onreg nie. Hy hoor sy kinders as hulle roep, en help hulle. Hy sal jou ook help. Saam met die psalm kan jy nou al oor sy redding begin jubel, selfs al het dit nog nie gerealiseer nie.
Views: 4