Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. (vers 2)
Petrus begin sy brief deur ons daarop te wys dat ons nie sommer net mense is wat ook toevallig op aarde is nie; ons is nie sommer net mense wat toevallig aan die kerk van die Here Jesus behoort nie; ons is tussen al die ander mense van hierdie wêreld deur God uitgekies om aan Hom te behoort! Ons is spesiaal! Ons is die Koning van hierdie wêreld se broers en susters! Ons is prinse en prinsesse.
As ons dÃt reg verstaan, as ons dit eers mooi gesnap het, sal ons heeltemal anders leef in hierdie stukkende wêreld. Ons is immers kinders van die Allerhoogste God, deur Homself uitgekies om Syne te wees! Hy het ons met sy eie Seun se bloed losgekoop uit die sondebande, losgekoop uit hierdie wêreld met sy goddelose waardes.
Ons is ook uitgekies om aan Hom gehoorsaam te wees. Dit is jou en my roeping vandag.