Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God …” (vers 34)
Ons reis agter Jesus aan, gelei deur die Heilige Gees, is ’n opwindende een met talle verrassings. Dié reis vra dat ons ons moet laat meesleur deur God se beweging in die wêreld, en dit vra ’n leerbare gees.
’n Gelowige wat Jesus volg, mag nie onwillig wees om nuwe dinge te verstaan en te integreer in jou manier van dink nie. Daarom moes Petrus eers leer dat God nie onderskeid maak tussen mense nie. En op watter vreemde manier leer God hom nie hierdie les nie! ’n Laken uit die hemel met krioelende goggas, van alle dinge. En dan die volgende stap: hy moes ’n Romeinse offisier na Jesus lei.
Daar is dus in hierdie hoofstuk sprake van twee bekerings. Nie net kom Kornelius en sy mense tot bekering nie, maar ook Petrus. Hy moes bekeer word van sy halsstarrige houding oor wie aan die kerk mag behoort en wie nie.
Ons moet as navolgers van Christus ook bereid wees om tot bekering te kom oor houdings en standpunte wat nie die toets van die Skrif kan deurstaan nie. Dis net so moeilik as die bekering uit ongeloof.