Waarom verstoot U my, Here, waarom trek U U van my af terug? (vers 15)
Psalm 88 is waarskynlik een van die swaarmoedigste gebede in die hele Bybel. Dit klink amper wanhopig. Die digter beleef God as afwesig, asof God se toorn op hom rus (vers17). Intussen roep hy onophoudelik na die Here (vers 2,10,14).
Hy wil weet waarom dit so sleg met hom gaan (vers 15) maar kry blykbaar nie ’n antwoord nie.
Dalk was (of is) jy ook al daar. Dit voel of God en mense jou verstoot het, asof jy in ’n put sit waaruit jy nooit sal kan kom nie; net die dood bly vir jou oor. Meestal help dit nie om dan te wonder hoekom dit met jou gebeur nie. Die Bybel help ons nie met dié soort waarom-vrae nie. Die Bybel wil ons wel help, maar met ’n ander vraag: Hoe? Hoe hanteer ek my ellende? Hoe kom ek anderkant uit?
Die eerste ding is dat ’n mens moet terugloop op jou pad met die Here. Die digter doen dit in vers 2: Here my God wat my altyd help, bely hy. God het in die verlede altyd gehelp, en dit gee hom die moed om in sy krisis weer na God te vlug.