Een nag het die Here in ’n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” (vers 9-10)
Dié vers was vir my nogal ’n verrassing toe ek dit die eerste keer met aandag gelees het. Paulus het ook bang en moedeloos geword! Ek het altyd in my gedagtes ’n idee gehad dat Paulus onverskrokke was en vir g’n niks gestuit het nie. En hy was dit; daarvan getuig die Handelinge-verhaal genoeg. Maar dit is nie die hele verhaal nie. Hier sien ons ’n ander kant van Paulus; ’n brose kant.
Om vir die Here Jesus te werk, is nie altyd maanskyn en rose nie. Paulus se bediening in Korinte was alles behalwe maklik. Hy het geweldige teenkanting van die Jode gekry wat hom later moedeloos gehad het, en selfs bang.
Tog was hy selfs in dié moeilike tyd nie alleen nie – die Here het hom bygestaan. Daarom kon hy moed skep en aangaan met sy werk.
Dit gee my ook moed. En jy?
Views: 58