Baie van die oueres […] wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word. (vers 12)
Hoewel ’n mens seker nie kan sê dat almal wat gehuil het, teleurgesteld was omdat die nuwe tempel so sleg afsteek teen die een wat Salomo nog gebou het nie – daar was ook diegene wat gehuil het van vreugde omdat hulle nou weer ’n tempel gaan hê – is dit duidelik uit Haggai 2:3 dat die mense wat nog die eerste tempel kon onthou, afgehaal was. Die oue was soveel beter. Daarom het hulle die oprig van die nuwe tempel met gemengde gevoelens beleef.
Dis natuurlik nie ’n onbekende emosie nie. Baie van ons hunker ook terug na die goeie ou dae toe alles in die kerk nog bekend was en ’n gevoel van veiligheid geskep het. Die leiding wat van sinode-weë gekom het, het ons gehelp om presies te weet wat ons glo en wat ons verwerp.
Tog lê ons sekuriteit nie in wat was nie. Ons sekuriteit lê in God, wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is (vgl Heb 13:8). Te midde van al die veranderinge is Hy steeds ons anker (vers 11).
Views: 6