Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane. (vers 31)
Efese was die gemeente waar Paulus die langste aaneen gewerk het. Hy was altesaam drie jaar daar, en dit is duidelik uit sy afskeid dat daar ’n besondere band tussen hom en die gemeente was.
Hy begin sy afskeidswoorde deur hulle te herinner hoe hy die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid en vervolginge (vers 19). Ons moet dit goed hoor. ’n Lewe in geloofsgehoorsaamheid is nie altyd maanskyn en rose nie. God se sorg oor ons beteken nie dat niks slegs met ons sal gebeur nie.
Wat my ook opval in sy afskeidswoorde, is hoe hy daarop klem gelê het dat dit in sy eie, maar ook in elke gelowige, se lewe gaan om te gee, jouself te gee, en nie om in te palm nie. Dit laat ’n mens nogal dink oor die predikante en profete van mega-kerke wat in weelde leef en tot stralers besit. As jy na Paulus se lewe kyk, sien jy niks daarvan nie. “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang,” haal hy in vers 35 vir Jesus aan.