Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” (vers 3)
Wat ’n ontsagwekkende toneel word nie hier beskryf nie! Die heiligheid, of uniekheid en gans andersheid van God; sy grootsheid, sodat net die soom van die kleed al die tempel vul; sy magtige teenwoordigheid wat nie net die tempel nie, maar die hele aarde vul – alles aspekte wat ’n mens se asem wegslaan. G’n wonder nie dat Jesaja diep onder die indruk van sy eie sondigheid en verlorenheid kom (vers 5).
Hierdie ontmoeting het Jesaja se hele bediening gevorm, net soos Paulus se ontmoeting op die Damaskuspad gemaak het dat hy nooit weer dieselfde oor Jesus kon dink nie (Hand 9).
As jy nog nie so ’n besondere ontmoeting met God gehad het nie, sal dit jou help om hierdie hoofstuk, veral vers 1-8, weer en weer te lees, totdat dit in jou gedagtes ingegraveer is. Word dan stil en bedink dit, herleef dit in jou hart asof jý daar voor God op sy verhewe troon staan.
’n Mens wat met dié beeld in sy gedagtes die dag ingaan, kan nie leef asof jy die belangrikste op aarde is nie.