Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.” (vers 11)
Die Here se teenwoordigheid en leiding loop soos ’n goue draad reg deur Paulus se lewe. Ons het al gelees hoe die Here hom in Korinte ook ontmoet en bemoedig het (Hand 18:9-10). En hier, in die tronk, kom die Here weer na hom toe.
Friedrich Nietsche het gesê: “He who has a why to live can bear almost any how.” Paulus se “why” was Christus, wat hom op die Damaskuspad voorgekeer het en op ’n nuwe pad agter Hom aan geroep het. Daarom kon hy selfs die moeilikste uitdagings en ontberings die hoof bied.
Die troos in hierdie gedeelte is dat die Here nie net vir Paulus agter Hom aan geroep het nie. Hy het ook oor Paulus die wag gehou. Hy was by hom elke tree van die pad, ook toe dit met hom sleg gegaan het en hy gely het.
My en jou pad agter die Here Jesus aan is ook soms moeilik en uitdagend, maar dít kan ons weet: Hy wat ons geroep het, is getrou (1 Kor 1:9).