Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” (vers 9)
Hierdie vraag van God aan Kain in Gen 4:9 moet ons saam lees met God se vraag aan Adam en Eva in Gen 3:9: “Waar is jy?” Dit omvat die twee basies verhoudinge waaroor God jaloers waak: Ons verhouding met Hom, en ons verhouding met ons naaste. Dit is ook die hart van die wet, leer Jesus ons (Matt 22:37-40).
As die liefde vir God uitbly, haper dit ook met die liefde vir jou naaste. Kain se verhouding met God was klaarblyklik nie gesond nie; sy offer is immers nie aangeneem nie (vers 5). Dit beïnvloed uiteindelik sy verhouding met sy broer, en lei later tot Abel se dood.
Johannes skryf in 1 Joh 4:20-21 hieroor dat ons nie vir God kan liefhê as ons verhouding met ons naaste flenters is nie. Ons het dit al almal gehoor, ons ken die woorde, ons ken die verhaal van Kain en Abel. Die groot vraag is natuurlik of ons dit in die praktyk leef.
God vra vir ons óók: “Waar is jou naaste?”
Views: 23