Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself. Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle “mens” genoem toe hulle geskep is. (vers 1-2)
Ná die hartverskeurende vertellings van Gen 3 en 4 sou ’n mens kon dink dat die mens verlore is; dat ons ons funksie as beelddraers van God (Gen 1:27) verloor het. In hierdie hoofstuk lees ons dat dit nie so gebeur het nie. Set was Adam se beeld; ook hý was dus draer van God se beeld. En elke geslag ná hom ook.
Let op: man én vrou is na God se beeld geskep. Ons almal weerspieël God se beeld in ons. Dis hoe jy oor jouself moet dink: jy is na God se beeld gemaak! En dit is ook hoe ons na ander moet kyk. Ryk of arm, belangrik of ’n randfiguur, almal is na God se beeld geskep, en daarom verdien alle mense om met respek behandel te word.
Net ’n nagedagte: die ouderdomme in die geslagslys is verbysterend. Jy moet egter onthou dat ons hier met die oergeskiedenis (oftewel prehistories) te make het. Ons kan nie die ouderdomme kontroleer nie, want dit strek terug tot in die newels van die oertyd.