My vriende het my bespotters geword, daarom pleit ek met trane by God … (vers 20)
Die Bybel in Praktyk noem by Job 16 ’n paar dinge wat ’n mens kan help om jou vriende wat in nood verkeer, meer effektief te ondersteun: (1) moenie net praat om te praat nie; (2) moenie vir hulle preek of geykte dinge sê nie; (3) moenie kritiseer nie; (4) stel jouself in die ander persoon se plek, en (5) bied hulp aan en bemoedig.
Dit is goeie raad, maar Job se sogenaamde “vriende” het nie dié insig gehad nie. Hulle skop Job terwyl hy lê. Daarom noem Job hulle “hopelose troosters” (vers 2) wat altyd die laaste woord wil inkry (vers 3).
Job sê dat hy, vanweë sy ervaring, nie só sal optree nie. Hy het geestelik gegroei. Hy sou medelye betoon en nie net voortbabbel soos hulle nie (vers 4-5).
In die bekende Halleluja-lied “Wat ’n Vriend” sing ons: “As ons vriende ons versaak het, soek ons in gebed die Heer …” Dis presies wat Job doen (vers 20). Selfs al beleef hy God as vyand (vers 12), verkies hy om na Hom te draai, eerder as om op sy “vriende” staat te maak. Dis wat Dawid ook in 2 Sam 24:14 gedoen het.