en toe dink die Here: sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen? (vers 17)
Die mans het weggedraai Sodom toe, maar die Here het by Abraham bly staan. (vers 22)
Wat ’n ongelooflike hoofstuk in Abraham se lewe! God kom hom persoonlik besoek, amper soos dit nog in die Tuin van Eden was. Eers kondig God aan dat Sara binne ’n jaar ’n baba gaan hê, en dan, as God vertrek en Abraham ’n entjie saamstap, lees ons iets wat my denke oor God geheel en al verbyster het: God besluit om vir Abraham te raadpleeg oor Sodom en Gomorra!
Dis nie net ’n geval dat God dit vir Abraham vertel nie, nee, dis veel meer. Hy bly by Abraham staan. Hy wag dat Abraham moet reageer, want Hy wil weet hoe sy kind oor die saak dink.
God is soewerein, ja, maar Hy kies om die wêreld nie sonder sy kinders se insette te bestuur nie. Daarom Jesus se herhaalde uitnodiging dat ons moet vra en soek en klop (Matt 7:7).
Jou en my gebede tel! God talm, ook by jou. Dis mos ’n geleentheid wat jy met albei hande moet aangryp!
Views: 8