Hulle het […] die Kindjie […] gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal … (vers 11)
Matteus wil hê ons moet raaksien dat ook mense uit heidennasies gekom het om die Verlosser te aanbid, want Jesus het gekom, nie net vir die Jode van sy tyd nie, maar vir die ganse mensdom van alle volke en tale en kulture.
Die mense – Herodes, die skrifgeleerdes, die priesterhoofde, die sterrekykers – moes almal ’n keuse maak oor wat om met Jesus te doen. Want met Jesus kan jy nie neutraal staan nie. Jy móét kant kies, vir Hom óf teen Hom. Óf jy bring aan Hom hulde en aanbid Hom, óf jy verwerp Hom. ’n Middeweg is daar nie.
Jesus se koms na die wêreld stel ook óns voor ’n keuse: wat maak jy met Jesus? Is Hy jou koning, of is daar ander oorwegings, en jou eie koninkrykie, wat prioriteit in jou lewe geniet?
Dalk moet ’n mens nie dié vraag so reguit antwoord nie, want ons weet mos wat die antwoord behoort te wees. Miskien moet ons kyk hoe ons Kersfeesviering lyk, want daaruit sal ons die antwoord op die vraag duideliker kry.
Views: 16