Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het, sien lag, sê sy vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.” (vers 9-10)

Gen 21 begin met die lankverwagte geboorte van Isak, die kind van die belofte. Maar daarmee was die spanning in Abraham se huis lank nie op ’n end nie. Sy en Sara se eiesinnige besluit het langdurige gevolge ingehou. Hagar se optrede ná sy swanger geword het, was al problematies (Gen 16), maar nou maak haar kind Ismael sake onmoontlik. Hy is heelwat ouer as die kleuter Isak en koggel hom, tot Sara se ontsteltenis. Die uiteinde is dat Abraham sy seun Ismael moet wegstuur, wat hy met ’n swaar hart doen (vers 11).

Die gevolge van ons onbesonne besluite is meestal sleg. Daarom bid Paulus vir die gemeente dat hulle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat hulle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:9-10). En ook: “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen” (Efes 5:17).

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.