Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” (vers 8)

’n Mens sidder as jy hierdie gedeelte lees. Kan dit donkerder word? Dat jy gehoorsaam moet wees, al gaan dit teen elke stukkie logika in?

Maar iewers in hierdie verskriklike verhaal het God ingegryp en ’n lam voorsien. Abraham het dit natuurlik nie geweet nie, totdat hy daar gekom het. Eers toe hy die mes vat om Isak te offer, ontdek hy dat God voorsien het.

Dikwels moet ons tot in die diepste nood indaal voor ons ontdek dat God ook vir ons ’n uitkoms bewerk het.

Eintlik is hierdie verhaal God se verhaal. Hy moes óók op ’n dag na ’n offerplek toe loop om sy enigste Seun wat Hy liefhet te offer. Die verskil is net: vir Hóm was daar nie ’n uitkoms nie. Jesus het nie ’n lam gehad nie. Hy was self die offerlam wat God voorsien het. Hy het die pad na Golgota geloop met die hout, die kruis, op sy rug: gehoorsaam aan God, sonder God – sodat ons Hom kan volg: gehoorsaam aan God, met God.

Daar is baie dinge in die wêreld wat ons nie verstaan nie. Geloof vra dat ons God dan sal vertrou.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.