Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. (vers 22)
Jesus vertel van twee begrafnisse. Lasarus s’n was die lot van armlastiges. Geen seremonie, geen blomme. Niks. Net ’n naamlose graf iewers tussen die sukkelaars. Baie mense was verlig dat die bedelaar nou nie meer daar was om hulle te pla nie. Die ryk man het ’n baie deftige begrafnis gehad. ’n Duur kis, ’n groot ruiker blomme, ’n spoggerige lykswa. Die kerk was stampvol, en die dominee het vertel hoe ’n goeie mens hy was.
Maar toe begin die poppe dans, want anderkant die graf het die ryk man se geld en invloed op die dorp niks getel nie. En Lasarus kry ’n ereplek in die hemel.
Lukas het ’n sagte plekkie vir armes gehad; of liewer, hy het Jesus se hart vir armes verstaan. Daarom, waar Matteus skryf dat “armes van gees” geseënd is (Matt 5:3), skryf Lukas in 6:20 “julle wat arm is”. In Jesus se intreepreek in Nasaret sê Hy die Gees het Hom gesalf om die evangelie _aan armes_ te verkondig (Luk 4:18).
Dit moet ons seker minstens met groter deernis na die armes laat kyk?
Views: 10