Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham. (vers 12)
Isak en Rebekka se liefdesverhaal begin by ’n gelowige slaaf wat in afhanklikheid van God sy opdrag aanpak. Voor én na hy vir Rebekka ontmoet, bid en dank hy die Here. ’n Mens kan van Isak en Rebekka met reg sê dit was ’n “match made in heaven”!
Die Bybelverteller noem nie die slaaf se naam nie. Dalk was dit Eliëser die man uit Damaskus (Gen 15:2); Abraham sou hierdie belangrike opdrag aan niemand minder as sy hoofslaaf gegee het nie. Hierdie man wys vir ons hoe ’n mens ’n onmoontlike opdrag aanpak en deurvoer: deur gebed en in afhanklikheid van God.
Twee kant-aantekeninge: Laban se gierigheid is hier al duidelik (vers 29-30). Later, in sy optrede teenoor Jakob, word dit nóg duideliker (Gen 30:25 ev).
Ook: Die optrede van Abraham se slaaf staan in skrille kontras met dié van Lot se slawe, waaronder daar geen enkele gelowige gevind kon word nie. My en jou voorbeeld strek baie verder as wat ons ooit kan vermoed.
Views: 10