Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek. (vers 28)
Jakob en Esau se verhaal het met soveel hoop begin: Isak bid tot die Here, en Hy verhoor die gebed en Rebekka word swanger; Rebekka raadpleeg die Here en Hy antwoord haar. En dan word die tweeling gebore: Esau en Jakob, met al die potensiaal wat in hulle opgesluit lê.
Dis waar die hoop in die verhaal ophou. Want Isak trek vir Esau voor, en Rebekka kies vir Jakob. So word die gesin in twee geskeur. Esau het boonop nie enige erg aan sy verantwoordelikheid en posisie as oudste seun in die gesin nie, en Jakob buit sy broer se traak-my-nie-agtige houding uit om homself te bevoordeel.
’n Sielkundige het vir my gesê: “Mense weet nie wat hulle aan hulle kinders doen nie.” Want ons kan nou maklik die vinger na Esau wys, of na Jakob, en ons sal reg wees. Hulle was albei aandadig aan die ontvouende tragedie. Maar dit begin reeds lank voor hulle verkeerde keuses begin maak het. Dit begin by ’n pa en ma wat nie saamstem oor die manier waarop hulle hulle kinders grootmaak nie, en elkeen ’n witbroodjie het.
Views: 3