As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. (Heb 11:15)
Die Hebreërbrief is een lang oproep tot ons om te bly glo. Ongeloof, daarenteen, is om om te draai (3:8). Die Hebreërskrywer is bang daar is gemeentelede, soos die volk destyds in die woestyn, wat sal agterbly en uiteindelik die genade sal verbeur. Ondanks ’n goeie begin kan hulle ook uitgeput word en terugdraai.
Ons leef ook in ’n soort woestynsituasie; in ’n wêreld van beproewings en onsekerheid, waarin God se beloftes nog nie in vervulling gegaan het nie. Ons het nog nie aangekom het nie. En dit lyk dikwels asof die beloftes en die redding nie so ’n groot verandering gebring het nie.
Israel het begin wonder of dit die moeite werd is om te glo. Dít is die kern van sonde – om jou plek in die Godsvolk prys te gee, en terug te draai.
In elke mens se lewe kom daar sulke kanse om terug te draai, om Christus en sy gemeente te verlaat, omdat ’n ander pad vir ons beter of makliker mag lyk. Juis dan moet ons leef uit God se krag (vers 34).