Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer … (vers 8)
Juda was die vierde oudste seun van Jakob. Drie ander broers het voor hom in die ry gestaan om die vernaamste te wees: Ruben, Simeon en Levi. En hulle het al drie hulle aanspraak verloor oor hulle onbeteuelde drif. Ruben het Bilha, sy pa se slavinvrou, verkrag in ’n poging om sy aanspraak as oudste seun te verstewig (Gen 35:22; vgl 2 Sam 16:21). Simeon en Levi het hulle suster se verkragting gewreek, maar dit was nie vir hulle genoeg nie. Hulle het ook al die mans van die stad vermoor (Gen 34:25).
Juda was ook nie ’n engeltjie nie, maar hy was nie iemand wat sy eie belange ten koste van ander bevorder het nie. Trouens, hy was bereid om sélf ’n slaaf te word sodat Benjamin vry kon kom (Gen 44:33 – en onthou, hy kon nie geweet het dat Benjamin onskuldig was aan die diefstal van Josef se beker nie).
Dis hierdie gesindheid wat baie tel in die Koninkryk. Paulus raak in 1 Kor 13:4-7 liries daaroor, en in Fil 2:3-5 verbind hy dit direk aan die voorbeeld van die Here Jesus.
DÃs mos nou ’n voorbeeld om te volg!