Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. (vers 9)
Dis nou al twee duisend jaar sedert Jesus terug is hemel toe. Wanneer kom Hy weer? Hoekom talm Hy? En – en dis waaroor Petrus hier skryf – hoekom sal ons op sy wederkoms wag? Dit lyk dan of Hy glad nie weer gaan kom nie!
Daar is mense wat dink ons kan uit Bybelse gegewens ’n berekening maak oor sy wederkoms. Elke dan en wan is daar iemand wat baie seker is van ’n datum. Die tragedie is dat hulle volgelinge kry wat alles los, want in die lig van die wederkoms is hulle aardse werk en selfs gesinne irrelevant.
Petrus sê die wederkoms sal so onverwags kom soos ’n dief in die nag (vers 10). Sommetjies maak gaan jou nie nader aan ’n antwoord bring nie. ’n Beter plan is om te sorg dat jy elke dag gereed is en met verwagting leef, in die regte verhouding met God en onbesproke. Dan kan jy uitsien na daardie wonderlike dag.
Naskrif: Ons gaan môre die boek Psalms verder lees, van Psalm 41 af. Seënwense!
Views: 40