Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. (vers 39)
Jesus se beskuldiging is dat die Jode se bestudering van die Skrif hulle nie by die ewige lewe uitbring nie, omdat hulle vassteek by die eise van die wet. Só mis hulle die punt dat die Skrif heenwys na die Messias. Paulus het gesê daar is ’n sluier oor hulle verstand (2 Kor 3:15).
Ek sien dieselfde tendens vandag nog. Daar is mense wat die Bybel lees om al die beloftes en stukkies troos daarin op te diep. Die groot vraag wat ’n mens dan vra, is: Wat is daarin vir my? Dit is sekerlik deel van wat die Here vir ons gee, maar dit is nie die eintlike punt van die Bybel nie. Die Bybel is vir ons gegee om by Jesus uit te kom, sodat ons in ’n diep en innige verhouding met Hom kan leef, Hom kan leer ken en sy navolgers kan word. Daarin lê ons roeping as gelowiges. Dáárin is die ewige lewe (vers 40).
Die vraag waarmee jy die Bybel lees, moet dus eerder wees: Hoe help die Skrifgedeelte my om Christus beter te ken en te volg?
Views: 11