Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! (vers 6-7)
Elke opregte gelowige beleef tye waarin dit voel of God nie daar is nie, soos die digter van Psalm 42. Dit voel of God wegkruip, en dan kan jy selfs begin wonder of Hy regtig bestaan, want God is weg.
Dit gebeur met ons almal. Professor Willie Jonker het gesê iemand wat nog nooit gewonder het of God regtig bestaan nie, het nog nooit diep oor dié dinge gedink nie.
Die vraag is nie of jy soms tye beleef waarin dit voel of God weg is nie. Die vraag is wat jy dan doen met jou twyfel. Die digter van Psalm 42 het in sy twyfeltyd gedink aan tye toe hy seker was van God, hoe hy saam met ander God geloof het, en dit het hom hoop gegee.
Dalk sukkel jy met jou geloof omdat jy dit alleen probeer deurwerk. Dalk is jy te verleë om met iemand anders oor jou vrae en vrese en twyfel te praat, maar dis juis by ander gelowiges waar jy weer jou geloof sal terugkry.