Maar Ú, Here, U heers vir altyd, u troon staan vas van geslag tot geslag. (vers 19)
Die laaste lied in die boek is ’n tyd ná die verwoesting van die stad geskryf. Die invallers is weg met die buit en die room van die bevolking. Die stad se ruïnes het die plek geword waar jakkalse rondloop (vers 18). Die hele sosiale struktuur van die samelewing is vernietig. Dit het die mense weerloos gelaat teen geweld, uitbuiting en misbruik. Alles het in duie gestort en niks van die ou dinge het oorgebly nie.
Wat maak ’n mens in só ’n tyd? Die digter draai na God. Te midde van totale verwoesting is God immers nie saam met die stad verwoes nie. Hy bly die groot konstante midde-in die grootste ontwrigting en onsekerheid (vers 19). Daarom roep die digter na God (vers 1) en sluit hy af met ’n retoriese vraag waarin hy opnuut bely dat God hulle ondanks alles nie heeltemal verwerp het nie (vers 22).
So eindig die boek op ’n positiewe en hoopvolle noot. Dit is wat geloof doen. Geloof laat jou telkens weer na God draai, selfs in jou diepste nood; júÃs in jou diepste nood. Want al wankel alles en almal om jou, God bly.
Naskrif: Ons begin DV môre met die brief 2 Timoteus.