Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. (vers 11)
Dié psalm kom moontlik uit ’n tyd toe Jerusalem deur die vyand omsingel is. Die gevaar was wesenlik; tog is daar ’n rustigheid in die digter se hart, want die Here is daar om die stad en sy mense te bewaar. Hy dink terug aan vorige noodsituasies waar die Here ingegryp het en hulle bewaar het, en op grond daarvan weet hy die Here sal hulle ook dié keer nie los nie. Oor en oor sê hy God is ’n beskutting (vers 2,6, 8). Daarom is daar selfs blydskap in die Godstad, ondanks die bedreiging.
In Johannes 10 sê Jesus dat Hý ons so beskerm. Hy lê sy lewe vir ons af, sê Hy, en dan verseker Hy ons dat niemand ons uit sy hand en uit die Vader s’n kan ruk nie (Joh 10:28 en 29).
Wat bring rus in jou gemoed as dinge onstuimig raak of nie uitwerk soos jy gehoop het nie?
Dink terug aan tye in jou eie verlede waar die Here jou gehelp het. Hy is vandag nog dieselfde God, wat ook nóú ’n verskil in jou huidige situasie kan maak.