Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n groot menigte, soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.” (vers 6)
Die finale triomf van die Lam word hier beskryf, en ’n magtige koor van engele, hemelwesens en gelowiges loof Hom uit volle bors. Dink net – jy gaan ook daaraan deel hê!
Die wederkoms sal soos ’n bruilof wees (vers 7), met al die vreugde en vervulling daaraan verbonde. Van ouds af is die Godsvolk as God se bruid beskryf, en in die Nuwe Testament word die kerk die bruid van Christus genoem (vgl Ef 5:25). Die bruidskleed is van fyn, helder blink klere (vers 8). Deur my en jou regverdige dade, oftewel ons gehoorsame volharding, weef ons saam aan dié bruidskleed.
Die hoofstuk sluit af met die tekening van ons Here as Aanvoerder van die hemelse leërs. Hy oorwin die Bose en sy navolgers (vers 20).
Die beskrywings klink vir ons grusaam, maar vir mense wat wreed vervolg is en talle medegelowiges aan ’n marteldood afgestaan het, sou dit buitengewoon getroos het. Ons Here is die Oorwinnaar!
Views: 25