Dít weet ek: God is aan my kant. (vers 10)
In ’n mens se diepste nood is dit ’n wonderlike troos: dat jou ellende nie by God verbygaan nie (vers 9). Daarom kan jy op Hom vertrou en jou nood voor Hom uitstort; na Hom vlug te midde van onreg en gevaar. Dit is wat die digter doen.
In Rom 8:31 haal Paulus vers 10 aan, maar hy verander dit effens (die 1983-vertaling het dié subtiele verandering ongelukkig wegvertaal): “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” Só vertaal die 2020-vertaling dit. Die “as” in hierdie sin verander die hele stelling. Niks van triomfantelisme nie. Niks van ’n gemaklike opeis van God vir jouself en jou eie saak en agenda nie. As jy meen jy kan God vir jou saak opeis omdat Hy aan jou kant is, beweeg jy op dun ys. Met dié vals ingesteldheid is oorloë gevoer en matelose ellende in God se Naam aangerig. Daarom sê Paulus: “As God vir ons is …”
Natúúrlik is God aan jou kant. Die vraag is egter: Is jy aan God se kant? Is jy seker jy verstaan God se plan vir jou en vir die wêreld só goed dat alles wat jy doen, daardeur geregverdig word?